12 April 2023
iii
Victoria-Wes beklee nog altyd ‘n spesiale plek in my hart. Dit was die halfwegstasie vanaf Vryburg na die Kaap en die plek waar ek my eerste bok kon skiet. Groot was my verbasing toe ek die pragtige verhale van die Koningin, Dutch en die vernuftige handelaar op my pelgrimstog ontdek.
Victoria-Wes is in 1843 gestig en die kerkraad het die dorp Victoria genoem ter ere van koningin Victoria. Koningin Victoria word op 18 koningin en was ‘n jong meisie toe hierdie verafgelê plek haar naam begin dra het. 95 jaar later sluit ‘n jong boorling van Victoria-Wes, Petrus Hugo, by die Royal Air Force aan. Sy Suid-Afrikaanse wortels verskaf aan hom die bynaam van “Dutch”. Dutch Hugo word geïdentifiseer as ‘n uitstekende vlieënier en veg in die Battle of Britain. Hy word die jongste offisier in die RAF om die rang van Group Captain(ekwivalent van ‘n kolonel) te bereik en sluit die Oorlog af as een van die mees gedekoreerde vlieëniers van die tyd met 17 verwoeste vyandelike vliegtuie op sy kerfstok. Na die oorlog keer hy terug na sy geboortedorp en sterf in 1986. Sy medaljes wat vir dekades in die dorpsmuseum te sien was word in 2010 in Engeland vir £150 000 verkoop. Hugo Gardens in Londen is na hierdie seun van Victoria-Wes vernoem. Is dit nie besonders hoe die geskiedenis ‘n manier het om sirkels te voltooi nie?
Reisigers is moontlik vertroud met die wit klippe op die koppie wat die dorp se naam spel, maar ek het altyd gewonder wie het dit dan gepak?
Daar is ‘n storie hieraan verbonde. Oorspronklik het die teken gelees
‘J Easton, Algemene Handelaar, Victoria Wes’. Die winkeleienaar Easton en sy seun het die klippe in die geheim gepak en hulle toe een nag wit gekalk – sodat almal dit die volgende dag kon sien. Na protes van die inwoners en ander winkeleienaars, het die dorpsraad beveel dat die ‘advertensie’ verwyder word.
Ek het vir ‘n lang wyle in die bemarkingswêreld gewerk en ek het nooit kon dink dat ongemagtigde advertensiepraktyke in só vorm kan verskyn nie.
Groete van Huis tot Huis
Jandré
Pelgrim
